WES-KAAP. – Zwelinjani Mbola (22) het Maandag op aanklag van moord en lykskending in die Ceres-landdroshof verskyn. Mbola het glo vir Peter Joubert (43) om die lewe gebring en daarna sy liggaam geskend deur sy privaatdele en arms met ‘n skerp voorwerp af te sny.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê die saak is tot 17 Desember vir borginligting en moontlike verwysing na ‘n distriksgeneesheer vir ‘n geestesgesondheidsevaluasie uitgestel.
Sers. Wesley Twigg van die polisie sê aan Nuusflits die liggaam is Sondagoggend omstreeks 09:00 onder ‘n brug in Voortrekkerweg aangetref. Nooddienste het die man op die toneel dood verklaar. Die motief van die moord is deel van die ondersoek. Mbola is as verdagte deur die polisie in hegtenis geneem.
Enigiemand met relevante inligting word deur die polisie gevra om na vore te kom.





