GAUTENG. – ‘n Man (60) is glo Dinsdagaand tydens ‘n argument deur sy vrou (56) in hulle slaapkamer in Waterbokstraat, Waterval, doodgeskiet. Die vrou is deur die Sinoville-polisiekantoor in hegtenis geneem.
Kapt. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits polisiebeamptes is omstreeks 18:30 na ‘n skietvoorval ontbied. Die man is met ‘n skietwond op die toneel gevind. ‘n Handwapen is op die kombuistafel aangetref.
Voorlopige ondersoek dui aan ‘n argument het ontstaan, waarna die man, met die vrou agterna, na hulle slaapkamer gestap het. Sy het glo ‘n vuurwapen uitgehaal en ‘n skoot geskiet, wat haar man noodlottig getref het. Nooddienste het die man op die toneel dood verklaar.
Misdaadtoneeldeskundiges het die toneel gefynkam. Die vuurwapen sal forensiese analise ondergaan. Die vrou, wat in aanhouding is, sal na verwagting Donderdag op ‘n aanklag van moord in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn.





