NOORDWES. – ’n 39-jarige man van Vryburg het Vrydag aan sy beserings beswyk, nadat hy deur twee pitbull-honde aangeval is.
Luidens ‘n verklaring van lt.kol. Sam Tselanyane is die polisie na ‘n plaaslike hospitaal ontbied waar die man leweloos op ‘n bed in die chirurgiese saal aangetref is. Daar is gerapporteer dat die man Donderdag deur nooddienste (EMRS) na die hospitaal geneem is. Hy is die volgende aand aan sy beserings oorlede. Die man het kneusplekke en bytmerke aan beide hande en bene opgedoen.
Voorlopige ondersoek dui daarop dat die man, vermoedelik ’n Pakistaanse burger, klaarblyklik woonplek by die perseel gehuur het. Die honde het glo reeds voorheen inwoners aangeval. ‘n Saak teen die eienaar word na verwagting in Februarie in die plaaslike landdroshof aangehoor.
Die honde is Saterdag, in oorleg met die eienaar, van kant gemaak. Geen inhegtenisnemings is tot dusver gemaak nie. ‘n Geregtelike ondersoek is geopen en die ondersoek duur voort.





