GAUTENG. – Muzi Kwanda Langa (37) is lewenslank deur die Alexandra-landdroshof tronk toe gestuur nadat hy ‘n meisie (12) in 2019 verkrag het.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê Langa was vir twee klagtes van verkragting aangekla. Hy het die slagoffer en haar vriende gereeld geroep om vir hom skottelgoed te was. Tydens die eerste insident het hy die meisie se vriendin gestuur om sigarette te koop en die slagoffer verkrag terwyl hulle alleen was. Op die slagoffer se verjaardag het hy haar geroep om ‘n geskenk te ontvang. Haar vriendin is weggejaag, waarna hy die slagoffer weer in sy huis verkrag het.
Langa het regdeur die verhoor onskuldig gepleit, maar bewyse deur die staat het tot sy skuldigbevinding gelei. Hy is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit en sy naam word in die register vir seksuele misdade aangebring.





