VRYSTAAT. – ’n 33-jarige man het Vrydag deur ’n venster van die tweede verdieping van Kenlin Court in Douglasstraat, Bloemfontein na sy dood geval toe hy die polisie probeer ontvlug het.
Volgens polisiewoordvoerder, lt.kol. Thabo Covane, is ’n geregtelike doodsondersoek by Parkweg-polisiekantoor geopen. Beamptes van Bloemfontein K9 was omstreeks 11:00 in Douglasstraat saam met ’n verdagte wat vir die besit van dwelms in hegtenis geneem is.
Terwyl die oorsprong van die dwelms nagespeur is, het ‘n onbekende man by die Kenlin Court-gebou ingehardloop. Die polisie het hom agternagesit terwyl hy met die trappe opgehardloop het. Hy is by ’n eenheid in en het die veiligheidsdeur agter hom gesluit.
Kort daarna het polisiebeamptes mense buite hoor raas en die man bewegingloos op die sypaadjie aangetref. Hy is op die toneel dood verklaar.
Forensiese misdaadtoneelkenners is ontbied. Die sleutel van die veiligheidsdeur is onder die liggaam gevind. Die omstandighede van sy dood word ondersoek.