VRYSTAAT. – ‘n Beseerde man het Maandag gesterf nadat hy in Bohlokong in ‘n vullisdrom gevind is wat deur ‘n verdagte gesleep is. Paramedici het die man uit die vullisdrom gehaal, maar hy het gesterf terwyl daar probeer is om hom te stabiliseer.
AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die verdagte is in hegtenis geneem nadat hy omstreeks 08:00 deur polisiebeamptes in 9de Laan met die beseerde man in die vullisdrom betrap is. ‘n Geskil oor ‘n selfoon het glo tot die oorledene se beserings gelei – die verdagte het glo ‘n selfoon geneem en dit verkoop.
Die verdagte was glo met die oorledene in die vullisdrom op pad na die koper van die selfoon in Fase 7 toe die polisie hulle opmerk. Die oorledene het glo probeer vlug, maar het ‘n diep snywond agter sy linkerknie opgedoen, ‘n Sinkplaat het hom gesny en hy het swaar gebloei. Hy het ook veelvuldige kneusplekke gehad.
‘n Moordsaak is deur die polisie geopen. Die verdagte sal vandag op ‘n aanklag van moord in die Betlehem-landdroshof verskyn.





