KWAZULU-NATAL. – ‘n Passasier in ‘n voertuig het vanoggend (Dinsdag) gesterf toe daar op die voertuig geskiet is waarin hy en die bestuurder in Argyleweg naby Umgeniweg in die Durbanse middestad gery het.
|Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê dié diens het net voor 09:30 oproepe van die skietery ontvang. Albei die insittendes van die voertuig is verskeie kere getref. Die passasier het gesterf en die bestuurder is op die toneel gestabiliseer voordat hy na ‘n Durbanse hospitaal vervoer is.
Jamieson sê die motief vir die skietery is onbekend, maar die polisie is op die toneel en stel ondersoek in. Hy sê voorts die pad is vir gebruik gesluit en motoriste moet die gebied vermy.






