WES-KAAP. – ’n Man (25) van Hawston word steeds vermis nadat hy Vrydag in die see by Hawston-hawe tussen Hermanus en Kleinmond verdwyn het.
Volgens Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, het ooggetuies omstreeks 12:30 ‘n klein oop visvangboot, met twee persone, sowat 200 meter uit die hawe gesien. Die boot het die wal veilig met een man bereik, terwyl die ander, die skipper van die boot, vermoedelik in die water gespring het om persoonlike items te probeer terugvind, maar het nie weer na die oppervlak gekom nie.
’n Uitgebreide soektog is geloods. Selfs vriende van die vermiste man het met ‘n boot help soek. Ondanks die soektog is daar steeds geen teken van hom gevind nie.
Polisieduikers, saam met die NSRI, Metro-nooddienste en plaaslike owerhede sal met die soektog voortgaan.





