MODJADJISKLOOF. – ’n 41-jarige Ethiopiese burger is Donderdagaand in Modjadjiskloof in hegtenis geneem nadat die polisie vermoedelik onwettige sigarette ter waarde van sowat R235 000 in sy voertuig gevind het.
Die inhegtenisneming volg ná inligting van die E2 Cross Border Group oor die moontlike vervoer van onwettige sigarette langs die R36-roete.
Lede van die Mopani Tracking Team, Hoshani Security en die K9-teen-kapings-eenheid het omstreeks 22:30 op 17 September ’n lokvaloperasie in die Modjadjiskloof-gebied uitgevoer.
’n Toyota Cross is in die sentrale sakegebied van Modjadjiskloof voorgekeer. Die voertuig is deur ’n 41-jarige man bestuur.
Volgens die SAPD het ’n deursoeking van die voertuig ’n besending vermoedelik onwettige Royal Express-sigarette aan die lig gebring.
12 bokse met altesaam 601 kartonne sigarette, geraam op ongeveer R235 000, is daarna deur die polisie getel.
Die man is in hegtenis geneem en aangekla van handeldryf in onwettige sigarette. Beslag is gelê op die sigarette en die voertuig wat volgens die polisie in die oortreding gebruik is.
Die verdagte sal na verwagting Maandag 21 September in die Kgapane-landdroshof verskyn.
Bron: SAPD