NOORD-KAAP – ’n Man (50) is gister by Wandrag-plaas, buite Kuruman, in hegtenis geneem.
Maj. genl. Johan Bean, polisiewoordvoerder, sê: “Na bewering het die verdagte met ’n vuurwapen na ‘n plek waar ’n Nuwejaarspartytjie gehou is, gegaan met die opset om een van die mense daar dood te maak. Volgens ooggetuies is die persoon wat deur die verdagte gejag is, gevra om in ’n badkamer weg te kruip om sy lewe te red.”
Die persoon wat die polisie gebel het, het daarin geslaag het om die verdagte te ontwapen. Hy het die vuurwapen in sy voertuig gehou tot die polisie op die toneel opgedaag het. Daar word verder beweer toe die man die verdagte ontwapen het, een skoot afgegaan het.
’n Vuurwapen en 12 haelgeweerdoppe is gekonfiskeer. Die verdagte is in hegtenis geneem en sal vandag voor die Kuruman-landdroshof verskyn.