NOORD-KAAP. – Thapelo Modise (23), wat skuldig bevind is aan moord op Oratile Loeto (3) en Kgomotso Gladys Kalabatane (74) van Pampierstad, is twee keer lewenslange tronkstraf opgelê.
Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die polisie verwelkom die vonnis. Modise het op 23 Mei 2023 sy buurman se huis betree waar hy die driejarige met ’n braaivurk doodgesteek het. Toe die kleuter se ma, ouma en buurvrou probeer ingryp, het Modise hulle ook gesteek voordat hy hulle in ’n slaapkamer toegesluit en die kamer aan die brand gesteek het.
’n Familielid het kort daarna by die huis aangekom en die deur, wat met draad toegespan was, oopgebreek. Hy kon sy 71-jarige ma en 21-jarige skoondogter red. Die 74-jarige buurvrou, wat net op besoek was, het egter in die vlamme gesterf.
Die oorlewendes is met ernstige steek- en brandwonde in ‘n hospitaal opgeneem. Modise is kort na die voorval in hegtenis geneem en borgtog is suksesvol teengestaan.
Die Taung-streekhof het hom op 15 September op klag 1: moord – lewenslange tronkstraf, op klag 2: moord – lewenslange tronkstraf en klag 3: poging tot moord – vyf jaar gevangenisstraf opgelê.
Speur.sers. James Seimelo van die Pampierstad-polisiekantoor is vir sy noukeurige ondersoek wat die skuldigbevinding verseker het, geprys.





