WES-KAAP. – ‘n Verdagte man (25) van Philippi-Oos wat glo voorgegee het om op 2 Januarie ontvoer te wees, is deur die polisie se ontvoeringstaakspan in hegtenis geneem.
Volgens kapt. Frederick van Wyk het ‘n buitelandse burger sy broer as ontvoer gerapporteer nadat hy ‘n boodskap van ‘n anonieme nommer ontvang het.
Volgens die rapportering van die ontvoering het die klaer omstreeks 05:30 hul woning verlaat om te gaan werk. Sy broer (die beweerde ontvoerde persoon) was tuis en moes hulle huur gaan betaal.
Na bewering het die klaer omstreeks 18:00 toe hy sy selfoon aanskakel boodskappe ontvang wat sê sy broer is ontvoer en ‘n losprys vir ‘n bedrag tussen R4 000 en R5 000 is vir sy veilige loslating geeïs. Die “ontvoerders” het ook glo gesê hulle het sy broer se geld en selfoon gevat en hy word in die Khayelitsha-area gevange gehou.
Later die dag het die klaer se vrou ook glo van nog ‘n ander nommer ‘n boodskap ontvang wat gesê het die geld moet aan die betrokke nommer gedeponeer word. Die familie het besluit om die losprys wat na R15 000 vermeerder het op 9 Januarie deur e-wallet te betaal.
Op 10 Januarie het die “ontvoerde” man na sy familie teruggekeer en erken hy en ‘n vriend het die beweerde ontvoering beplan om sodoende geld vir dobbel te bekom.
Die “ontvoerde man” is in hegtenis geneem en by Philippi-Oos-polisiestasie aangehou waarna hy vandag vir die eerste keer in die Athlone-landdroshof gaan verskyn.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel





