GAUTENG. – Stephan Pretorius word daarvan beskuldig dat hy Charlene Pretorius (42), sy vrou, in Mei 2023 aan die brand gesteek en haar dood veroorsaak het. Die saak is Maandag in die Pretoria-hooggeregshof na vandag uitgestel.
Action Society sê in ‘n plasing die verhoor kon nie voortgaan nie omdat die voorsittende regter siek is. Die vorige uitstel is toegestaan nadat die verdediging aangevoer het dat hulle nie sonder die toksikologiese verslag kon voortgaan nie, ten spyte daarvan dat die nadoodse ondersoek reeds voltooi was. Die organisasie sal in die hof teenwoordig wees, Charlene se familie ondersteun en daarop aandring dat die saak sonder verdere vertragings voortgaan.
Charlene is na bewering op 27 Mei 2023 deur haar man aan die brand gesteek. Sy het op die volgende dag aan haar beserings gesterf. Hul tienerdogter het die voorval sien gebeur. Action Society is deur haar familielede genader om hulle by te staan. .
 
								 
											




