OOS-KAAP. – Timothy Omotoso (63), die omstrede televangelis en sy twee medebeskuldigdes, Lusanda Sulani (41) en Zikiswa Sitho (33), se verlof tot appèluitspraak sal eers later deur die Gqeberha-hooggeregshof gelewer word. Die staat voer aan die regter het ‘n fout met ‘n onskuldigbevinding op 32 aanklagte begaan. Weens die uitstel van die saak van 2017 af is die aanklagte met bykans die helfte verminder.
Die televangelis is in April, na ‘n verhoor van agt jaar, op aanklagte van verkragting, mensehandel en seksuele aanranding kwytgeskeld. Hy is ook in die Oos-Kaap oor sy immigrasiestatus in hegtenis geneem.
Luxolo Tyali, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring regter Irma Schoeman, wat die verhoor gelei het, het die betoog van beide partye aangehoor en aangekondig dat sy haar beslissing oor die aansoek sal uitstel, om dit verder te oorweeg. Die NVG is in die hof deur adv. Apla Bodlani (SC) verteenwoordig, terwyl prokureur Peter Doubermann namens die verdediging opgetree het. Die staat voer aan dat regter Schoeman ’n regsfout begaan het toe sy bevind het dat Omotoso en sy medebeskuldigdes op al 32 aanklagte onskuldig is. Volgens die NVG is daar redelike vooruitsigte dat ’n ander hof tot ’n ander gevolgtrekking as die uitspraak van 2 April 2025 kan kom. Die NVG het aangevoer dat die vorige uitspraak meer gefokus het op beweerde onbillikheid tydens die verhoor en onvoldoende kruisondervraging van die beskuldigdes, eerder as op die getuienis wat deur die staat aangebied is.
Tyali sê sedert die drie beskuldigdes in April 2017 in hegtenis geneem is, is die verhoor gekenmerk deur talle vertragings en hofsake, insluitend grondwetlike uitdagings en verskeie tussentydse aansoeke, soos vyf spesiale aansoeke vir ’n ‘“misverhoor”’ en ’n aansoek op 16 Januarie 2024 vir die heroorweging van ’n vorige beslissing oor ’n ontslagaansoek ingevolge artikel 174 van die Strafproseswet. Die staat het hierdie aansoeke suksesvol teengestaan, met dieselfde regter wat in sy guns beslis het. Vanweë die lang vertragings het sommige getuies aangedui dat hulle nie verder wil voortgaan nie, aangesien hulle intussen met hul lewens aangegaan het en nie hul ervarings weer in die hof wil herleef nie. Dit het daartoe gelei dat die aanklagte van 63 tot 32 verminder is. Ten spyte van hierdie uitdagings het die vervolging volgehou en getuienis van slagoffers, ondersoekbeamptes en sielkundiges aangebied.
Die NVG sê dit bly vasbeslote om geregtigheid vir slagoffers te verseker en sal alle moontlike regsroetes oorweeg, insluitend ’n verdere appèl na ’n hoër hof indien regter Schoeman nie in sy guns beslis nie.





