VRYSTAAT. – ‘n Mannejag vir twee onbekende verdagtes wat glo Vrydagaand ‘n familie op ‘n plaas op Petrus Steyn oorval, vasgebind en beroof het, is deur die polisie geloods.
Sers. Mahlomola Kareli sê die slagoffers – ‘n man (63), vrou (58) en die vrou se seun (32) – het na bewering omstreeks 15:00 huis toe gegaan toe twee verdagte mans van ‘n buitevertrek op hulle afstorm en met ‘n vuurwapen dreig. Hulle is die huis binne waar die slagoffers glo aan stoele vasgemaak en hulle koppe toegemaak is. Die huis is geplunder en items is in ‘n grys Toyota Hilux-dubbelkajuit-bakkie van die man gelaai. Die man se rewolwer is ook gebuit voordat die verdagtes van die plaas met die gesteelde bakkie gevlug het.
Kareli sê die slagoffers kon hulleself loswikkel en het die polisie omstreeks 19:00 vir hulp gekontak. Die polisie was op die uitkyk vir die voertuig. Dis opgemerk waar dit Zamdela in Sasolburg binnegegaan het. ‘n Distrikstaakspan het die voertuig in Zamdelam Iraq 5 opgespoor en dit begin jaag. ‘n Skietery het ontstaan, waarna die verdagtes verder te voet gevlug het.
Die gesteelde voertuig en items, saam met die bakkie en vuurwapen, is teruggevind.
Geen inhegtenisnemings is gemaak nie, maar die ondersoek duur voort.