WES-KAAP. – Maphelo Toto is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op sy meisie, Charne van Rooi, wat hy op 19 September 2024 in Oudtshoorn met sy vuiste aangerand en met ’n groot klip doodgeslaan het.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê die paartjie het die dag saam met ’n vriend gekuier. Hulle was op pad na Toto se huis toe ’n woordewisseling ontstaan het. Toto het Van Rooi met sy vuiste geslaan en haar verder aangerand nadat sy geval het. Hy het haar daarna met ’n groot klip geslaan en noodlottig beseer.
Marcel Jack en Stewart le Roux het die aanranding gesien en probeer ingryp. Hulle het Van Rooi nog lewend aangetref, maar sy kon nie praat nie. Terwyl hulle hulp gaan soek het, het Toto gevlug. Ettiene Esbach en Ebrahim Gertse het hom ’n ent van die toneel af voorgekeer en teruggebring, waarna die polisie hom in hegtenis geneem het.
Delmaree van Rooi, streekhofaanklaer, het ses getuies geroep. Jack het getuig dat hy Toto kort voor die aanranding vir Van Rooi hoor dreig het. Simayile Kwanele het getuig dat hy die paartjie kort voor haar dood in die rigting sien stap het van die plek waar sy vermoor is. Die staat het tydens vonnisoplegging aangevoer dat Toto geen berou getoon het nie en het die omvang en verwoestende uitwerking van geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord beklemtoon.
Die hof het bevind dat daar geen wesenlike en dwingende omstandighede was wat ’n afwyking van die voorgeskrewe minimumvonnis van lewenslange tronkstraf regverdig nie. Toto is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Adv. Adrian Mopp, Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, het die vonnis verwelkom en die vervolgings- en ondersoekspanne vir hul volharding geprys. “Niemand het die reg om ’n intieme lewensmaat aan geweld te onderwerp nie. ’n Lewensmaat is nie iemand anders se besitting nie,” het Mopp gesê.