Brekende Nuus
Misdaad

Mapisa-Nqakula se aansoek om ontslag van die hand gewys

Foto: Parlement

GAUTENG. – Nosiviwe Mapisa-Nqakula se aansoek ingevolge Artikel 174 van die Strafproseswet om op 12 aanklagte van korrupsie en een aanklag van geldwassery ontslaan te word, is van die hand gewys. Sy was die voormalige speaker van die Nasionale Vergadering en het die pos tot 3 April 2024 beklee, waarna sy bedank het.

Henry Mamothame, Idac-woordvoerder, sê regter Mashudu Munzhelele het bevind daar is ’n prima facie-saak teen Mapisa-Nqakula waarop sy moet antwoord. Sy het daarna besluit om haar plek in die getuiebank in te neem, waar haar regsverteenwoordiger haar getuienis gelei het. Mapisa-Nqakula word daarvan beskuldig dat sy R4,5 miljoen aangevra het, waarvan R2,1 miljoen na bewering in kontant van ’n diensverskaffer ontvang is. Die saak is vir verdere verhoor tot vandag uitgestel.

Adv. Ntuthuzelo Vanara, die waarnemende ondersoekdirekteur van Idac, het die uitspraak verwelkom.