GAUTENG. – Die hooggeregshof in Pretoria het Maandag uitspraak in die korrupsie-en-geldwasserysaak teen Nosiviwe Mapisa-Nqakula, voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, voorbehou nadat die staat en die verdediging hul slotbetoë afgehandel het. Uitspraak word op 3 Desember verwag.
Henry Mamothame, woordvoerder van die ondersoekdirektoraat teen korrupsie (Idac), sê senior staatsadvokaat Emile van der Merwe het in sy slotbetoog aangevoer dat die getuienis die staat se saak staaf. Die verdediging het aangevoer dat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie en het kommer uitgespreek oor die wyse van Mapisa-Nqakula se kruisverhoor. Die staat het dié argumente in sy repliek betwis.
Mapisa-Nqakula staan tereg op 12 aanklagte van korrupsie en een van geldwassery. Die staat beweer sy het sowat R4,5 miljoen van ’n diensverskaffer gevra en na bewering sowat R2,1 miljoen daarvan in kontant ontvang.