GAUTENG. – Die nasionale departement van vervoer het bevestig dat die masjien vir die druk van bestuurslisensiekaarte herstel is en dat werksaamhede hervat is.
Collen Msibi, nasionale woordvoerder vir die departement, sê in ‘n verklaring die masjien was sedert 5 Februarie buite werking, wat tot ‘n agterstand van 747 748 lisensiekaarte gelei het. Die agterstand per provinsie soos op 2 Mei is soos volg; Gauteng – 252 745, KwaZulu-Natal – 115 020, Wes-Kaap – 108 402, Mpumalanga – 66 833, Limpopo – 61 769, Oos-Kaap – 55 393, Noordwes – 39 983, Vrystaat – 33 741, Noord-Kaap – 13 862.
Werksure vir personeel by die bestuurslisensiekaart-agentskap, wat deel van die departement is, word verleng om die agterstand te verminder. Met die huidige inhaalplan sal daar bywerking oor die vermindering van die agterstand gegee word soos en wanneer betekenisvolle vordering gemaak word. Die vermindering van die agterstand hang egter ook af van die aantal bestellings wat daagliks ontvang word.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com