Die nasionale verbruikerskommissie (NVK) het gesondheidsfasiliteite en mediese praktisyns in kennis gestel dat sekere mediese toestelle wat deur Boston Scientific versprei is, herroep word. Dit sluit onder meer ’n stentstelsel en verskeie hartbehandelingskonsoles en kateters in wat in Suid-Afrika versprei is. Alle mediese instellings moet onmiddellik die gebruik van die betrokke produkte staak.
Phetho Ntaba, woordvoerder van die NVK, sê die kommissie monitor die situasie ingevolge die wet op verbruikersbeskerming. Sommige van die toestelle kan tydens gebruik foutief funksioneer, wat prosedures kan verleng en ekstra mediese ingryping mag vereis. Die herroeping, wat deur Boston Scientific geïnisieer is, raak onder meer128 eenhede van die AXIOS™ stentstelsel en 63 eenhede van die POLARx™ krioablasie-stelsel, insluitend kateters, skedes en konsoles wat gebruik word vir hartbehandelings soos atriale fibrillasie.
Die NKV sê die herroeping is deel van maatreëls om pasiëntveiligheid te verseker en risiko’s te beperk en versoek alle instansies wat die produkte in voorraad het om dit onmiddellik te verwyder, apart te hou en veilig te bewaar totdat dit aan die vervaardiger terugbesorg kan word.







