KWAZULU-NATAL. – Meer as 100 huislose persone is Maandagoggend tydens ‘n geïntegreerde voor-feesseisoen-operasie geverifieer. 15 onwettige immigrante is ook gearresteer.
Kol. Robert Netshiunda sê die operasie is gesamentlik met die kantoor van die premier, korrektiewe dienste, metropolisie en die departement van gemeenskapsveiligheid en skakeling in die Albert Park-area in die eThekwini-distrik in die Durbanse middestad uitgevoer.
“Albert Park-area het ‘n brandpunt vir misdade soos diefstal uit motorvoertuie, smash and grab-voorvalle en rooftogte, geword.”
Netshiunda sê informele strukture wat in openbare plekke, soos byvoorbeeld langs verkeersligte of onder die M4-hoofwegbrug opgerig is, is tydens die operasie afgebeek
“Daar is gevind sommige van die hawelose mense ly aan verskeie mediese toestande, insluitend oop wonde. Inspuitings met bloed is in gesloopte strukture gevind. Diegene wat siek aangetref is, is op die toneel deur EMS-personeel behandel.”
Van diegene wat tydens die verifikasieproses ingeneem is, is twee persone deur hulle vingerafdrukke positief met misdaad gekoppel.
“Een van hulle was sedert 2001 op die gesoekte lys en ondersoeke is aan die gang om vas te stel met watter sake hy verbind word. Die gearresteerde verdagtes sal aan die einde van die verifikasieproses voor die hof gebring word.”






