GAUTENG. – ’n 21-jarige Suid-Afrikaanse burger is Sondag op OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem op aanklag van dwelmhandel, nadat sy verdink is van die vervoer van meer as 110 dwelmkapsules in haar liggaam. Die verdagte het vanaf São Paulo, Brasilië, na Suid-Afrika gereis.
Brig. Athlenda Mathe, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat die kapsules vermoedelik kokaïen bevat. “Dit is meer as die gemiddelde hoeveelheid kapsules wat dwelmmuile wat op OR Tambo-lughawe onderskep word, gewoonlik dra,” het sy verduidelik.
Die polisie het ’n ernstige waarskuwing aan mense gerig om nie sulke lewensgevaarlike risiko’s te neem nie. “Dit kan noodlottig wees,” het Mathe gesê. “Die polisie is ook bekommerd oor die betrokkenheid van jong vroue by hierdie tipe misdaad.”
Die verdagte sal vandag in die Kemptonpark-landdroshof voorkom.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
‘n Vroulike vermeende dwelmmuil (21) van Suid-Afrika is Sondagoggend net voor 09:00 op ‘n vlug vanaf São Paulo Brasilië op OR Tambo Internasionale Lughawe (ORTIA) met kapsules in haar maag onderskep.
Brig. Athlenda Mathe sê die verdagte is op ‘n klag van dwelmhandel gearresteer. ‘n X-straal by ‘n plaaslike hospitaal het vreemde voorwerpe in die verdagte se maag bevestig. Die kapsules is onder polisiebewaking uit haar liggaam gewerp.
Dit is die elfde dwelmmuil wat in twee maande by ORTIA gearresteer is.
“Die afgelope maand het die SAPD, SAID-doeane, immigrasie en BMA by ORTIA weekliks dwelmsmokkelaars onderskep. Op Sondag 22 September 2024 is ‘n 30-jarige Namibiese dwelmmuil gearresteer nadat sy van São Paulo aangekom het. Sy is ook vir ‘n mediese ondersoek geneem en het meer as 60 bullets vrygelaat. Sy het reeds op aanklag van handel in dwelms in die Kemptonpark-landdroshof verskyn. Op Vrydag 13 September 2024 is ‘n Nigeriese dwelmmuil in hegtenis geneem nadat hy in besit van kokaïen wat in vliegtuigoorfone versteek was, gevind is. Hy het ook pas van São Paulo geland. Hy het reeds op aanklag van handel in dwelms in die Kemptonpark-landdroshof verskyn,” het brig. Mathe verduidelik.