KWAZULU-NATAL. – ’n Totaal van 234 motoriste is die afgelope naweek in Newcastle vir dronkbestuur in hegtenis geneem.
Siboniso Duma, die LUR vir vervoer en menslike nedersettings, sê in ‘n verklaring hy het Sondagoggend om 06:30 ’n verslag ontvang dat nog 116 motoriste vasgetrek is, nadat 118 die vorige dag in hegtenis geneem is. Volgens Duma het die padverkeersinspekteurs (RTI) vier verdagtes vir die besit van vuurwapens in hegtenis geneem, terwyl nog agt verdagtes vir beweerde geslagsgebaseerde geweld deur die polisie in aanhouding is. Duma het die samewerking van verskeie departemente bedank.
“Ons waardeer die ondersteuning van die publiek vir ons pogings om dronkbestuurders van die paaie te verwyder. Ons is vasbeslote om hierdie werk tot en ná die feestyd voort te sit,” het Duma gesê.





