KWAZULU-NATAL. – ’n 12-jarige meisie is vanoggend (Dinsdag) dood in ’n ongeluk naby die N2-suidelike oprit in Mt. Edgecombe. ’n Grys Kia Sportage, wat ’n gesin van vier – ‘n man, sy vrou en hul twee kinders – vervoer het, het teen ’n betonversperring gebots.
KZN VIP Protection Services sê die enkelmotorvoertuigongeluk het op die M41 waar dit op die N2 in ‘n suidelike rigting van Phoenix na KwaMashu aansluit, gebeur. Verskeie nooddienste is na die ongelukstoneel ontbied. Die oorledene is uit die voertuig geskiet toe dit gerol het. Paramedici van dié diens het die meisie dood verklaar en die beseerde insittendes na ‘n mediese fasiliteit vervoer.
Die oorsaak van die ongeluk is onbekend en word deur die polisie ondersoek.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê verbygangers het omstreeks 08:35 die Phoenix- operasionele sentrum vir hulp gebel. Met aankoms op die toneel was paramedici van privaat ambulansdienste reeds op die toneel. Daar is beweer dat die bestuurder probeer het om ’n metaaldrom gevul met grond, wat op die geel streep geplaas was, te vermy. ’n Poging is aangewend om die voertuig te stop, maar weens die teenwoordigheid van ’n ander voertuig aan die regterkant was dit nie moontlik om uit te swaai nie.







