Meisie (13) kry baba – stiefpa lewenslank tronk toe gestuur

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

WES-KAAP. – ‘n Minderjarige meisie (13) is sedert Augustus 2017 tot Januarie 2018 deur haar stiefpa (33) verkrag. Sy het swanger geraak en het in 2018 aan ‘n babadogter geboorte geskenk. Haar stiefpa is aan verkragting skuldig bevind en is in die Robertson-streekshof lewenslank tronk toe gestuur.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die verkragting het oor ‘n tydperk van vyf maande plaasgevind, waarna die meisie swanger was.

Die gevonnisde misdadiger het sedert die meisie vier jaar oud was ‘n woning in White City, McGregor, met hulle gedeel. Hy is die pa van drie ander kinders van die slagoffer se ma.

Hy het die minderjarige verkrag wanneer haar ma by die werk was en het om haar te laat stilbly dan met haar eie sowel as haar ma se lewens gedreig.

Nadat die jong slagoffer in 2018 geboorte aan die babadogter gegee het, is vaderskap met DNS bevestig.

Eltom Willemse, die staatsaanklaer, het vir die lewenslange vonnis gevra, aangesien die verswarende faktore veel swaarder as versagtende faktore opweeg.

Die beskuldigde het voorheen met die gereg gebots met inhegtenisnemings van onder meer dwelmbesit en aanranding en het ‘n drie jaar vonnis vir huisbraak met die doel om te steel asook diefstal.

Willemse het aan die hof voorgehou die slagoffer is weerloos en het die hof se beskerming nodig. Die beskuldigde het die slagoffer by verskeie geleenthede verkrag en haar menseregte, vertroue, liefde en versorging waarvoor hy verantwoordelik was, geskend.

Hy het sy verhouding met die slagoffer se ma rooskleurig geskets en ook voorgehou dat sy hom vergewe het. In stede van verantwoordelikheid vir sy dade te neem, het hy die blaam op die slagoffer geplaas.

Die slagoffer het aan die hof vertel sy was bang vir hom, aangesien hy haar ma aangerand het. Sy het nie net fisiese en sielkundige trauma ondervind nie, maar ook sekondêre trauma toe sy in die hof moes getuig.

Die afwesigheid van berou het die staat laat glo die beskuldigde sal nie rehabiliteer kan word nie. Die hof het saamgestem en het hom lewenslank tronk toe gestuur. Sy naam sal in die nasionale register vir seksuele misdadigers, asook die nasionale kinderbeskermingsregister aangeteken word. Ma en dogter is ook van hul regte ingelig sou die beskuldigde vir parool oorweeg word.

Hy is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapens te besit en beslagleggingsprosedures is onmiddellik ten opsigte van vuurwapens en ammunisie in die beskuldigde se besit, uitgevoer.

Bron: NVG

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel