Brekende Nuus
Nuus

Tribunaal bevind Pretoria-restaurant se outomatiese diensfooi was onwettig

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – Die nasionale verbruikerstribunaal het bevind dat die Pretoriase restaurant TriBeCa Standard die wet op verbruikersbeskerming oortree het deur outomaties ’n diensfooi van 10% by klante se rekeninge te voeg. Landwye inspeksies sal hierop volg.

Hardin Ratshisusu, waarnemende kommissaris van die nasionale verbruikerskommissie, het die beslissing verwelkom. Die kommissie sê sy ondersoek het gevolg op ’n wenk en daar is bevind dat die restaurant sowat 200 sulke heffings per dag verwerk het. Die spyskaart het die fooi as opsioneel beskryf, maar dit is outomaties bygevoeg. Klante wat ontevrede was met die diens, moes die bestuur vra om dit te verwyder.

Volgens die kommissie het die tribunaal bevind dat die spyskaart nie die volle prys of die bykomende diens waarvoor die restaurant gehef het, aangedui het nie. Die tribunaal het verduidelik dat restaurante vrywillige fooitjies mag aanvaar wanneer klante self kies om dit te betaal. Die kommissie beplan landwye inspeksies by restaurante.

Bronne: Nasionale Verbruikerskommissie