WES-KAAP. – Agt leerlinge van Hoërskool Milnerton wat van aanranding met die opset om ernstige liggaamlike letsel te veroorsaak aangekla is, sal Dinsdagoggend weer in die Kaapstad-landdroshof voorkom.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê ses van die beskuldigdes het in Hof 26 verskyn, terwyl twee minderjarige beskuldigdes in Hof 19 aangehoor is. Die groep se eerste hofverskyning was op 23 Oktober 2025, waarna hulle op borgtog en ‘n waarskuwing vrygelaat is, aangesien hulle vaste adresse het en geen vorige veroordelings of hangende sake nie. Die saak is uitgestel om die beskuldigdes toe te laat om eksamen te skryf. Hulle is beveel om tuis te studeer, terwyl die Wes-Kaapse departement van onderwys ’n alternatiewe eksamenlokaal by die Metro-Noord-distrikskantoor gereël het.
Die borgtogvoorwaardes bepaal dat die beskuldigdes geen kontak met die klaers of getuies mag hê nie, nie die skoolterrein mag betree totdat die saak afgehandel is nie en nie betrokke mag raak by enige kriminele aktiwiteit nie. Hulle is ook verplig om hul selfone en PIN-kodes aan die ondersoekbeampte te oorhandig.





