GAUTENG. – ’n Minibustaxi wat op die R80 Mabopane‑hoofweg in die rigting van Soshanguve gery het, is Donderdagaand ná 22:00 deur booswigte se gebruik van skerpgemaakte ysterpenne tot stilstand gedwing. Verskeie passasiers is geslaan en beroof.
Live Traffic NPO sê ‘n onbekende aantal verdagtes het kort nadat die minibustaxi tot stilstand gekom het uit die bosse langs die pad gekom. Sommige was met vuurwapens bewapen. Die verdagtes het glo die bestuurder en passasiers van selfone, kontant en ander waardevolle items beroof. Verskeie passasiers is na bewering tydens die voorval geslaan, onder andere met ’n vuurwapen, maar geen skote is geskiet nie en niemand het lewensgevaarlike beserings opgedoen nie. Die slagoffers was volgens ooggetuies erg geskok en getraumatiseer.
Hierdie voorval is nog ’n voorbeeld van ‘n gewelddadige spiking-aanval op die R80, ’n roete wat volgens inwoners toenemend gevaarlik is in die donker. Die publiek word aangemoedig om enige verdagte aktiwiteit langs die pad aan te meld, soos voertuie wat in die donker parkeer of mense wat in bosse skuil.
Indien jy ‘n voorval wil aanmeld, of die organisasie wil ondersteun, WhatsApp 066 770 8304 of gaan na die LiveTraffic WhatsApp-kanaal.





