Minister praat met Noord-Kapenaars

Lees ook :

Jackson Mthembu, minister van die presidensie van Suid-Afrika, het ’n uur van sy tyd uit Pretoria afgestaan om die gemeenskapslede in die Noord-Kaap van die nuutste verwikkelinge oor die koronavirus in te lig.

Die minister sê dis onnodig om ’n masker te dra as jy nie in direkte kontak met ’n korona-pasiënt is nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het aangekondig die dra van maskers en handskoene is onnodig, sê  hy.” Gesondheidswerkers, persone wat in direkte kontak met korona-lyers kom en persone wat met Covid-19 gediagnoseer is, is die enigste persone wat maskers hoef te dra.”

Mthembu beklemtoon in die radio-onderhoud die presidensie se dankbaarheid vir die Suid-Afrikaners wat gereeld dankie sê vir die regering vir besluite oor die land in hierdie moeilike tyd. Mthembu bedank ook diegene wat gedurende die inperkingstydperk by die huis bly en slegs die huis vir noodgevalle verlaat. “Dis beter om bang te wees as om weens die koronavirus te sterf,” sê die minister.

Die mobiele laboratoriums wat bekendgestel is om Suid-Afrikaners vir Covid-19 te toets, sal volgens die minister by inwoners in al die provinsies uitkom vir toetsing. Die laboratoriums sal eers die provinsies met die meeste gevalle van die virus besoek. “Daar sal eers op die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Gauteng en die Wes-Kaap gefokus word.”

In gisteraand se inligtingsessie is daar aangekondig informele koshandelaars en spaza-winkels mag gedurende die res van die inperking soos normaal funksioneer. Minister Mthembu verduidelik waarom die regulasies ten opsigte van die handelaars aangepas is. “Vir baie mense wat nie in die dorpe woon nie, is dit baie makliker om die nodige by ’n plaaslike winkel te koop. Jy hoef nie in die taxi met 70% van sy kapasiteit passasiers te klim of saam met ’n groep mense by ’n supermark in ’n ry te gaan staan nie. Vir hulle is dit baie makliker om die plaaslike winkel na aan hul woning te besoek wanneer dit nodig is.”

“Hierdie siekte eis mense se lewens. Dis sonder twyfel ’n dodelike virus. Bly by die huis en moenie die huis verlaat tensy dit ’n noodgeval is nie,” was die minister se boodskap aan die luisteraars.

Jackson Mthembu, minister van die presidensie van Suid-Afrika.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App