KWAZULU-NATAL. – Net voor 07:00 vanoggend (Donderdag) is 18 persone op die R56-en-Umlaasweg-kruising in ‘n ongeluk beseer. Net ná 08:00 is ‘n voetganger raakgery in ‘n ongeluk op ‘n ander kruising. Nog ‘n persoon is in laasgenoemde botsing beseer.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê dié diens se paramedici vanaf Hibiscus Cato Ridge was op beide die twee ongelukstonele teenwoordig. ‘n Voertuig wat persone vervoer het en ‘n taxi het net voor 07:00 met mekaar gebots. Volgens paramedici is agtien persone op die toneel aangetref met beserings wat van gering tot kritiek gewissel het. Verskeie ambulanse is gebruik om die beseerdes te stabiliseer en na hospitale in Pietermaritzburg te vervoer.
In die tweede voorval net ná 08:00 het ‘n voertuig en ’n taxi op die kruising van Ottos Bluff- en Dr. Chota Motalaweg gebots voordat die taxi beheer verloor, van die pad geloop en toe ’n voetganger raakgery het. Die voetganger, ’n man vermoedelik in sy veertigs, het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Die bestuurder van die ligte motorvoertuig het matige beserings opgedoen en is na ‘n hospitaal vervoer.
Volgens ALS Paramedics is die oorsaak van die ongelukke tans onbekend. Die SAPD was op albei tonele teenwoordig en ondersoek word gedoen.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





