VK. – Heathrow-lughawe is Vrydag as gevolg van belemmerde elektrisiteitstoevoer tot stilstand gedwing na ‘n brand Donderdagaand by North Hydeplant, ‘n nabygeleë substasie in Hayes, in die weste van Londen, uitgebreek het. Die lughawe het Saterdagoggend gesê dit is weer ten volle operasioneel.

Ongeveer 200 000 passasiers en meer as 1 000 vlugte is deur die onbeplande “stilstand” geraak toe vlugte gekanselleer en na ander lughawens herlei is. Ten spyte van lang vlugte wat reeds Donderdagaand hervat is, word daar geskat die gebeure gaan steeds vir dae ‘n invloed op lugrederye en hulle passasiers hê.
Thomas Woldbye, die lughawe se uitvoerende hoof, het verskoning aan die gestrande passasiers gevra. Die metropolisie het bevestig die massiewe brand het nie ‘n verdagte oorsprong nie.
Bronne: Heathrow Airport, BBC, Sky News en The Guardian





