GAUTENG. – Meer as 40 slagoffers het na bewering internasionaal miljoene rand verloor in ’n uitgebreide vals beleggingskema, waarna ses vermeende bedrieërs en 25 oproepsentrumagente Dinsdag in Johannesburg in hegtenis geneem is. Die verdagtes verskyn vandag op aanklagte in die Palm Ridge Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof.
Luidens ‘n verklaring van lt.kol. Christopher Singo, Valke-woordvoerder, is die verdagtes tydens ‘n gesamentlike operasie, wat verskeie Valke-eenhede, die plaaslike kriminele rekordsentrum, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Interpol, Sabric, asook verteenwoordigers van Standard Bank en First National Bank insluit, in hegtenis geneem. Die ondersoek het in 2022 begin nadat 43 slagoffers uit Australië verklarings afgelê het. Dit het gelei tot samewerking tussen die Valke en internasionale wetstoepassingsagentskappe. Interpol het ook ’n senior verteenwoordiger ontplooi as deel van Operasie Jackal, wat fokus op die bekamping van aanlyn bedrog en transnasionale finansiële misdaad.
Volgens die polisie het die sindikaat vals beleggingsgeleenthede op sosiale media bevorder, veral gemik op mense naby aftree-ouderdom met aansienlike bedrae spaargeld. Slagoffers is glo aanvanklik oorreed om klein bedrae te belê, met sogenaamde hoë opbrengste wat valslik vertoon is.
Kommunikasie tussen oproepsentrumagente en slagoffers het daarna deur platforms soos WhatsApp, Zoom, Skype en Messenger voortgeduur, totdat slagoffers oorreed is om groter bedrae geld te belê. Die bedrywighede is na bewering vanuit Gauteng en die Wes-Kaap bedryf, met slagoffers hoofsaaklik in Australië, die VK, die VSA, Kanada en Nieu-Seeland.
Verskeie maatskappye is glo deur die sindikaat geregistreer om persele te huur waar die bedrog bedryf is. Die ligging en maatskappy-entiteite is gereeld verander om opsporing te vermy. Professionele webwerwe, vals persverklarings, gefabriseerde bemarkingsmateriaal en onware getuigskrifte is gebruik om die indruk van wettige beleggingsplatforms te skep.
Die ondersoek duur voort.





