Brekende Nuus
Nuus

Minstens 6 dood en 129 vermis ná veerboot omslaan

Foto: marinetraffic.com Farid Ahmad Watoni

INDONESIË. – Minstens ses mense is dood en sowat 129 word vermis nadat die veerboot, Virgo Transport 8, Sondag in die Java-see omgeslaan het.

Die veerboot was onderweg van Surabaya in Oos-Java na Banjarmasin in Suid-Kalimantan toe die voorval plaasgevind het. Volgens die boot se manifes was 243 mense aan boord, bestaande uit 213 passasiers en 30 bemanningslede. Die boot het ook 89 voertuie vervoer. Basarnas, die Indonesiese nasionale soek-en-reddingsagentskap, het bevestig dat minstens ses mense dood is. Die jongste beskikbare syfers dui daarop dat sowat 108 mense gered is, terwyl ongeveer 129 steeds vermis word, terwyl die soek-en-reddingsoperasie voortduur.

Volgens die reddingsowerhede het die veerboot omstreeks 02:00 plaaslike tyd kontak verloor nadat dit in moeilike weerstoestande beland het. ’n Helikopter en verskeie reddingsvaartuie is ontplooi om na die vermiste mense te soek. Die Indonesiese ministerie van vervoer het intussen ’n noodsentrum by die Trisakti-hawe in Banjarmasin opgerig om die reddingsoperasie te koördineer en inligting aan familielede te verskaf. Die oorsaak van die ongeluk word steeds ondersoek.

Bronne: AP News, ANTARA News, The Standard, BBC