Ná haar indrukwekkende vertoning as naaswenner van Die Kontrak 3 het Mirandi Mörsner haar as een van Suid-Afrika se opwindendste jong kunstenaars gevestig. Haar inskrywing vir die gesogte kompetisie was ‘n Celine Dion-treffer. Op Vrydag 7 Augustus bring sy haar splinternuwe produksie, Celine Dion: A Timeless Tribute, na die Rio Casino Theatre, waar sy hulde bring aan een van die wêreld se grootste sanglegendes.
Nuusflits het met Mirandi gesels oor haar loopbaan, die uitdagings van die produksie, haar nuwe musiek en die drome wat sy nog wil verwesenlik.
Jy het Suid-Afrikaners se harte gesteel as naaswenner van Die Kontrak 3. Hoe het jou lewe sedertdien verander?
My lewe het op die mooiste manier verander. Die Kontrak het vir my deure oopgemaak waarvan ek voorheen net kon droom. Ek kry nou die geleentheid om oral in Suid-Afrika op te tree, my eie musiek uit te reik en mense deur musiek te inspireer. Die grootste verandering is waarskynlik die mense wat ek ontmoet en die platform wat ek ontvang het om ‘n verskil te maak. Ek het die geleentheid gehad om op groot verhoë op te tree, nuwe musiek uit te reik en saam met gevestigde kunstenaars te werk. Claire Jones Hair Artistry het my genader as hulle ambassadeur, so ook Pinup Laser Studio en verskeie ander plekke, wat beteken ek lyk altyd op my beste op die verhoog. En dan my groot mylpale, my enkelsnitte – As Jy Bid – ek is absoluut mal oor die video – en dan Wille Sarie.
Is daar nog droomprojekte of kunstenaars saam met wie jy graag wil werk? Is daar nog optredes of projekte waarna jou aanhangers later vanjaar kan uitsien?
Ek sou graag met verskeie kunstenaars wou saamwerk wat ongelooflike sangtalent, stemtegnieke en goeie harte het wat dieselfde passie het om mense deur musiek te inspireer. My grootste droom is om ‘n country star in Nashville te wees en ook om oorsee gospel praise and worship-vertonings op groot verhoë te doen soos Lauren Diagle. Daar is verskeie optredes, nuwe musiek, ‘n paar liedjies wat ek self geskryf het deur die jare en dan ook een wat Danny Smoke vir my geskryf het, musiekvideo’s en ander opwindende projekte in die pyplyn. Ek deel gereeld opdaterings op my sosialemediaplatforms. Ek glo daar is nog baie opwindende projekte wat voorlê, as dit die Here se wil is.
Maar vir eers is jy nou besig met ‘n nuwe produksie, Celine Dion: The Voice Goes On. Wat kan gehore verwag?
Dit is ‘n viering van een van die grootste stemme van ons tyd. Gehore kan uitsien na Celine se grootste treffers, emosionele oomblikke, kragtige ballades en ‘n aand vol nostalgie en inspirasie. Ons bring hulde aan haar nalatenskap, maar ook aan die veerkragtigheid wat sy deur haar loopbaan getoon het.
Waarom het jy spesifiek besluit om hulde aan Celine Dion te bring?
Celine Dion is ‘n kunstenaar wat my nog altyd inspireer. Haar stem, emosie en vermoë om mense diep aan te raak, is iets waarna ek as kunstenaar opkyk. Haar verhaal van deursettingsvermoë maak haar vir my selfs meer besonders. Dit was vir my ‘n groot kompliment en ongelooflike eer toe Angelique van Artistique Productions my genader het met die idee en ‘n droom wat bewaarheid word. Sy self is ‘n baie talentvolle danser wat onder andere op groot verhoë vir groot kunstenaars gedans en choreografie gedoen het, asook bemarker en beplanner vir funksies was. Ek bring ook my eie interpretasie en persoonlikheid na die verhoog. Ek wil hê mense moet Celine se musiek beleef soos sy dit doen en uitleef, maar ook iets van Mirandi daarin hoor.
Hoe lank neem dit om vir so ‘n produksie voor te berei?
Maande se beplanning gaan daarin. Van liedjiekeuses en repetisies tot tegniese voorbereiding, elke detail moet reg wees om die gehoor die beste moontlike ervaring te gee.
Wat beteken dit vir jou om by die Rio Casino Theatre op te tree?
Dit is ‘n groot voorreg. Die Rio Casino Theatre is ‘n besonderse plek, die mense, die span, die hotel als! Ek sien uit daarna om hierdie spesiale produksie met die gehoor daar te deel.
Is daar ‘n spesifieke Celine Dion-liedjie wat vir jou besonders is? Hoekom?
My Heart Will Go On bly vir my baie spesiaal. Dit is nie net ikonies nie, deel van ‘n vreeslike hartroerende verhaal, die Titanic, maar dra ook ‘n boodskap van hoop, liefde en volharding wat mense oor generasies heen raak.
Celine Dion is bekend vir haar ongelooflike vokale omvang. Hoe uitdagend is dit om haar musiek te vertolk? Watter liedjie in die vertoning is die grootste uitdaging om te sing?
Dit is beslis uitdagend. Haar tegniek en beheer is ongelooflik. Mens moet nie net die note sing nie, maar ook die emosie oordra. Dit verg baie voorbereiding en respek vir die oorspronklike materiaal. All By Myself is waarskynlik die grootste uitdaging. Dit verg ongelooflike stembeheer, stamina en emosionele oorgawe, dis ongelooflik hoog nog daarby ook.
Wat hoop jy mense sal ervaar wanneer hulle ná die vertoning huis toe gaan?
Ek hoop hulle gaan huis toe met hoop in hul harte, nuwe energie en die herinnering dat musiek mense diep kan raak, herinneringe weer kleur gee, genees, inspireer en verbind.
Jy skryf ook jou eie musiek. Werk jy tans aan nuwe oorspronklike liedjies of ‘n album?
Ja, ek skryf voortdurend nuwe materiaal. Ek glo musiek is ‘n manier om stories te vertel en ek sien uit daarna om nog oorspronklike liedjies met mense te deel.
Jou dogter Deuterenomium het duidelik jou musikaliteit. Sal sy dit verder wil ontwikkel en het julle dalk projekte waaraan julle saam werk?
Sy is baie musikaal en dit maak my ongelooflik trots. In hierdie stadium wil ek hê sy moet net haar talent geniet en natuurlik ontwikkel en daarom gee ek geen vorm van lesse nie. As die regte geleentheid opduik, sal ons beslis graag saam iets doen.
Jy kom uit ‘n musikale familie. Vertel ons daarvan, wie sing almal en watter instrumente word deur wie bespeel?
Musiek was nog altyd deel van ons familie. Ek het van kleins af saam met my ouers en susters Juan-Marie en Somonja gesing, by kerke en Christelike geleenthede. Vandag speel my man, Chris, akoestiese en elektriese kitaar en werk ook met ons klank by my optredes, terwyl my pa, Gert Vermaak, baskitaar speel. Hulle ondersteuning beteken die wêreld vir my.
Jy het ook ‘n gesondheidsuitdaging ondervind. Is jy nou gesond?
Ek is dankbaar dat dit baie beter gaan. Daar is tye wat uitdagend was, maar ek fokus daarop om goed na myself om te sien en ek waardeer elke dag wat ek gesond genoeg is om te doen waarvoor ek lief is. Ek moet erken die 12 weke wat my ma na my kom omsien het, was ‘n royal tyd!
Laastens, watter boodskap wil jy aan jou ondersteuners stuur wat jou sedert Die Kontrak ondersteun?
Dankie uit die diepte van my hart. Julle geloof, gebede, boodskappe en ondersteuning beteken meer as wat ek ooit in woorde kan beskryf. Julle maak hierdie droom moontlik, julle dra my en help my staande bly.
Kyk hier onder na Mirandi se inskrywing vir Die Kontrak 3, ‘n Celine Dion-treffer:





