VSA. – ‘n Kinderoppasser het op die aand van 24 Maart ‘n skokondervinding beleef toe sy ‘n kind wat oor ‘n “monster onder sy bed” gekla het, wou gerusstel.
Volgens ‘n verklaring van die Barton County Scherrif’s Office in Kansas is beamptes omstreeks 10:30 na ‘n huis in Pattonstraat, net buite die stad Great Bend. By die adres het ‘n kinderoppasser vertel sy was besig om die kinders in die bed te sit, toe een oor ‘n monster onder die bed kla. In ‘n poging om die kind gerus te stel, het sy self onder die bed gekyk en inderdaad in ‘n man se gesig vasgekyk. ‘n Struweling het ontstaan, waartydens die kinderoppasser en een van die kinders omgestamp is. Die “monster” het daarin geslaag om te vlug.
Die “monster” is as Martin Villalobos Junior geïdentifiseer. Hy het voorheen by die adres gewoon, maar daar is ‘n beskermingsbevel teen hom bekom en hy mag nie by die adres wees nie. Die “monster” is die volgende dag deur owerhede gearresteer en na die Barton County Jail geneem, waar hy op verskeie aanklagte van onder meer ontvoering met verswarende omstandighede, inbraak met verswarende omstandighede, aanranding met verswarende omstandighede, bedreiging van kinders, misdadige belemmering van ‘n wetstoepasser in sy pligte, asook die oortreding van ‘n beskermingsbevel aangehou is.
Bronne: Barton County Sherrif’s Office – Kansas, BBC, CNN en NBC News
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





