Waarskuwing: Foto kan sensitiewe lesers ontstel
GAUTENG. – Ongeveer 30 gevalle van vermoedelik stafilokokkus-infeksie is by die Jack Hindon-kliniek in Pretoria-Noord behandel.
Rdl. Rina Marx, van die Vryheidsfront Plus in Tshwane, waarsku oor die bakteriële infeksie wat op ‘n kleinhoewe buite Pretoria-Noord aangemeld is. Volgens van die inwoners is die behandeling glo nie effektief nie en versprei die infeksie. Simptome is koors, rooi en opgehewe knoppe, sellulitus of sere wat sweer. Die infeksie word deur kontak versprei.
“Tshwane se departement van gesondheid het voorgeneem om dadelik die Gautengse departement van gesondheid hiervan in kennis te stel, waarna ʼn reaksiespan die voorvalle sal ondersoek.”
Marx sê persoonlike higiëne is van belang en daarom moet persoonlike items waarmee byvoorbeeld gebad word, nie gedeel word nie. Daar moet ook nie aan die sere gekrap word nie en dit moet liefs skoon gehou word en verbind wees.
Meld die vermoede van hierdie infeksie by die naaste kliniek of by Marx by 072 216 4163 aan.
Nuusflits het die Gautengse departement van gesondheid vir kommentaar gevra.





