Moordklag oorweeg ná AfriForum-ingryp oor marathonatleet se dood

Lees ook :

Foto's: BackaBuddy

GAUTENG. – Die staat oorweeg dit om ’n man wat ’n hardloper tydens die Soweto-marathon raakgery het, van moord aan te kla ná ingryping deur AfriForum. Dezi du Plessis (37) is tydens die Soweto-marathon op 29 November 2025 as gevolg van ‘n ongeluk kritiek beseer en het op 12 Desember gesterf. Sy is deur ‘n taxi op die marathonroete gestamp.

Barry Bateman, AfriForum-privaatvervolgingseenheid se woordvoerder, sê in ‘n verklaring die beskuldigde, Thabang Ndlovu, staan tans tereg op ’n klag van strafbare manslag, maar AfriForum se privaatvervolgingseenheid het aangevoer dat ’n ernstiger aanklag oorweeg moet word, aangesien hy glo waarskuwings geïgnoreer en ’n afgesperde gebied binnegedring het.

Die saak is vir verdere ondersoek tot 27 Februarie uitgestel, terwyl Ndlovu in aanhouding bly, ondanks borg wat toegestaan is.

MEDIAVERKLARING: AfriForum gryp in:

Moordklag nou oorweeg vir man wat hardloper raakry

’n Senior aanklaer het Dezireè du Plessis se familie meegedeel dat die staat oorweeg om die man, wat haar in November verlede jaar tydens die Soweto-marathon raakgery het, van moord aan te kla. Du Plessis het op 12 Desember 2025 aan haar beserings beswyk. Hoewel haar familie tevrede is dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) die saak behoorlik hanteer, het hulle steeds AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader uit kommer dat die huidige klag van strafbare manslag teen Thabang Ndlovu nie ’n gepaste klag is nie.

In ’n skrywe aan die senior aanklaer by die Orlando-landdroshof het adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, die saak gestel dat ’n ernstiger klag Ndlovu in die gesig behoort te staar. Luidens mediaberigte het Ndlovu verbale en selfs fisiese waarskuwings van verkeersbeamptes tydens die marathon geïgnoreer toe hulle aangedui het dat hy ’n afgesperde area wou binnegaan. Volgens die inligting het verskeie hardlopers padgegee voor die beskuldigde se voertuig voordat dit Du Plessis getref het.

Volgens Nel kan dit argumenteer word dat die beskuldigde die moontlikheid kon sien dat hy ’n hardloper kan tref en homself versoen het met die moontlikheid. Voorts is die afleiding dat die beskuldigde dus doelbewus opgetree het, onontkombaar.

Volgens Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het Du Plessis in ’n polisie-familie grootgeword. “Dezireè se ma en pa was beide lede van die SAPD en het hul lewens daaraan gewy om die samelewing te dien en toe te sien dat geregtigheid geskied. Dit is nou ons verantwoordelikheid om toe te sien dat dieselfde geregtigheid geskied in hierdie sinnelose dood van ’n ma, suster, en dogter. AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal hul volle ondersteuning en samewerking aan die SAPD en die NVG in hierdie verband gee,” sê Bateman.

Die saak is tot 27 Februarie uitgestel vir verdere ondersoek terwyl die beskuldigde in aanhouding bly.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

2 Responses

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief