Die Springbok-slot Ruan Nortje is weens ’n besering aan Saterdag se wedstryd teen Ierland in Dublin onttrek. Franco Mostert sal nou saam met Eben Etzebeth in die tweede ry begin.
Nortje het die besering vandeesweek tydens oefening opgedoen en is sedertdien deur die Bokke se mediese span gemonitor.
Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het Vrydagoggend besluit om versigtig met Nortje te werk en hom meer tyd te gee om te herstel, het SA Rugby gesê.
Mostert vervang Nortje in die tweede ry
Mostert sal sy 88ste toets vir Suid-Afrika speel. Hy het in die Bokke se vorige twee wedstryde teen Frankryk en Italië van die plaasvervangerbank af gespeel. Lood de Jager behou sy plek op die bank as reserweslot.
Die wedstryd in die Nasieskampioenskap skop Saterdag om 18:40 Suid-Afrikaanse tyd af en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.