WES-KAAP. – Theunis, van weerhou, was Vrydagoggend tussen 07:30 en 08:00 onderweg van Somerset-Wes na Kaapstad toe hy die ooggetuie van ‘n beweerde vuurwapenvoorval op die N2 geword het. Hy beskryf die voorval waartydens ’n man met ’n vuurwapen ‘n voertuig tot stilstand dwing aan Nuusflits. Theunis noem dat dit die derde misdaadvoorval- by die een vanoggend indirek – in twee jaar in die omgewing van Kaapstad is waarby hulle betrokke was.
Kort na ‘n brug tussen die R300-afrit en die Jake Gerwel-afrit, terwyl verkeer stadig beweeg het, die motors soms feitlik teen mekaar, was Theunis in die linkerkantste baan. Hy het ‘n man opgemerk wat van die kant van die pad af na die regterbaan gestap het. Hy het ‘n vuurwapen gehad en toe Theunis verby hom ry, kon hy hoor hoe die vuurwapen oorgehaal word. In sy truspieëltjie kon hy sien hoe die man die vuurwapen op die voertuig voor hom rig en vir die bestuurder daarvan aandui om te stop. Theunis vertel voorts hy kon sien hoe ’n groep individue ook van die kant van die pad af na die voertuig toe storm en dit beset.
Hy sê die betrokke voertuig het nie ruimte gehad om te kon uitswaai nie. Theunis, wat bekommerd was oor wat met die insittendes van die voertuig gebeur, sê hy was onseker of hy dalk die situasie kon vererger sou hy stilhou om hulp aan te bied. Hy kon nie verder die gebeure in sy truspieëltjie sien nie.
Nuusflits het polisiekommentaar gevra. Sers. Wesley Twigg sê Manenberg-polisie het geen rekord van die voorval nie. Die bron is versoek om verdere besonderhede te verskaf, of bevestig of ’n saak geregistreer is en waar dit geregistreer is, sodat daar volledig op die navraag gereageer kan word. Theunis het wel bevestig die voorval was nader aan Phillipi-Oos, Khayelitsha, Mfuleni en Faure-polisiestasies as Mannenberg.
“Ek moet sê, in al ons jare in Johannesburg was ons nog nooit by enige misdaadsituasie betrokke nie. In die afgelope twee jaar in Kaapstad was ons direk by twee misdade betrokke en indirek by nog een, vanoggend.”






One Response
En daar het jy dit nou Theunis, miskien maar net terug trek Jhb toe.