KWAZULU-NATAL. – Motoriste is reeds vir ongeveer 12 uur sonder kos, water en medikasie in die sneeu vasgekeer en bekommernis bestaan oor bejaardes en kinders.
Reaction Unit South Africa, wat op bystand was om hulp na die motoriste met ‘n helikopter te vlieg, is ook weens die weer gestrand.
Die veiliheidsdiens sê die operasionele sentrum het verskeie oproepe van motoriste wat hulp vra, gekry. Die motoriste was op die N3 in Harrismith gestrand.
Rusa sê die diens se helikopter was op bystand en reg om motoriste van voorrade te voorsien. Sigbaarheid is egter nie goed nie en die vlieënier en bemanning het vir toestemming gewag om te kan opstyg.
Afgesien van die helikopter wat gestrand is, het Rusa paramedici en reaksiebeamptes met ‘n 4 X 4-reddingsvoertuig na die gebied waar die motoriste op die N3 vasgekeer is, ontplooi.
“Die Rusa-operasiesentrum is sedert 04:00 vanoggend oorval met oproepe van gestrande motoriste wat hulp versoek. Die inbellers het gesê dat bejaardes en kinders ongeveer 12 uur lank in vriespunt, sonder water, kos en medikasie is. Die oproepe is vanaf Van Reenenspas en Harrismith ongeveer 340 kilometer vanaf die Rusa-hoofkwartier, ontvang. Die Robinson R44-helikopter is gegrond weens swaar sneeuval, mis, reën en swak sigbaarheid langs die roete.”
Rusa versoek die publiek en wetstoepassingsagentskappe in die Vrystaat om sonder om te wag, motoriste te help.