KWAZULU-NATAL. – Motoriste wat meganiese probleme met motors ondervind en in die gebied van die R102 in Mt. Edgecombe stilhou, is onlangs van waardevolle items beroof.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê ‘n lid van die diens was Dinsdagoggend op die betrokke pad in ‘n suidelike rigting onderweg toe daar opgemerk is hoe vier mans twee slagoffers beroof. Die reaksiebeampte het stilgehou en die verdagtes te voet in ‘n suikerrietplantasie agternagesit.
Hulp is ontbied en die Rusa-R44 helikopter is ook met die soektog ingespan, maar die verdagtes was skoonveld. Daar is vasgestel ‘n vroulike motoris wat meganiese probleme met haar voertuig ondervind het, het haar seun ontbied vir hulp. Hy het gestaan en kyk hoe die voertuig op ‘n sleepvoertuig gelaai word, toe die vier mans hulle oorval. Die mans het ook die insleepvoertuig se bestuurder gekonfronteer, maar het gevlug toe hulle die Rusa-beampte opmerk.
Rusa sê die ma en seun is van hulle selfone beroof. Daar word vermoed die verdagtes kan aan verskeie sake gekoppel word.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





