Vier nuwe gevalle van a-pokke (mpox) is in Suid-Afrika bevestig, wat die land se nasionale totaal sedert 1 Januarie op 26 te staan bring. Die departement van gesondheid het die jongste syfers Sondag bekend gemaak. Die Wes-Kaap het die meeste bevestigde gevalle, met 18, terwyl Gauteng drie, die Oos-Kaap twee, die Vrystaat twee en KwaZulu-Natal een geval aangemeld het.
Die departement van gesondheid sê twee van die 18 gevalle in die Wes-Kaap hou verband met buitelandse besoekers aan Suid-Afrika. Die ander 16 gevalle in dié provinsie word met plaaslike oordrag verbind. Van die 26 mense wat positief getoets het, is 25 mans tussen 23 en 50 jaar oud, met ’n gemiddelde ouderdom van 37 jaar. Die virus se clade- en afstammingsinligting is vir 17 gevalle beskikbaar: 13 hou verband met a-pokke-clade Ib en vier met clade IIb.
Die departement van gesondheid doen ’n beroep op die publiek om waaksaam te bly en mediese hulp te kry indien simptome soos ’n veluitslag, koors, hoofpyn, spierpyn, geswelde limfkliere of moegheid ontwikkel. Mense wat noue kontak met iemand gehad het wat bevestigde of vermoedelike a-pokke het, moet gesondheidswerkers daarvan in kennis stel en hulself vir 21 dae vir simptome monitor.
Die publiek word aangeraai om amptelike gesondheidsinligting te volg en voorsorg te tref om moontlike verdere verspreiding van die virus te beperk.