MPUMALANGA. – Die provinsie het ’n afname in verskeie misdaadkategorieë aangeteken. Volgens die statistiek het kontakmisdaad met 8,6% gedaal, terwyl moord met 7,7% afgeneem het. Daar is egter steeds kommer oor die toename in poging tot moord, wat met 14,2% gestyg het.
Die misdaadstatisiek is gesamenlik deur Jackie Macie, die LUR vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, en genl.maj. Zeph Mkhwanazi, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, bekend gemaak. Hulle het gesê die syfers toon bemoedigende vordering, maar beklemtoon dat sekere misdade steeds ernstige aandag verg. Seksuele misdrywe het met 12,4% gedaal, aanranding met ernstige liggaamlike besering met 5,5%, en gewapende roof met 19,2%. Algemene roof het ook ’n daling getoon.
Hierdie verbeterings is grootliks aan bewusmakingsveldtogte en gemeenskapsinisiatiewe regoor die provinsie toegeskryf, wat skoolprogramme, radiopraatjies en openbare uitreike oor geslagsgebaseerde geweld en misdaadvoorkoming insluit. Volgens die polisie speel alkoholmisbruik in baie van hierdie voorvalle ’n groot rol. Daar is ook ’n toename in seksuele aanranding, kommersiële misdaad en winkeldiefstal, wat nuwe uitdagings vir wetstoepassing skep. Owerhede waarsku ook dat bedrieërs al hoe meer van aanlyn platforms gebruik maak om mense met vals advertensies en swendelary te mislei.
Die polisie sê inwoners moet baie versigtig wees wanneer hulle aanlyn aankope doen en verdagte aktiwiteite onmiddellik aanmeld. Mkhwanazi het bevestig dat die polisie voortgaan met intensiewe operasies soos Operasie Shanela II en Vala Umgodi om misdaad, onwettige mynbou en vuurwapenverwante misdaad te bekamp.
Hulle sê misdaadbekamping is ’n gesamentlike verantwoordelikheid en doen ’n beroep op gemeenskappe om saam met wetstoepassing te werk om veiliger dorpe en stede in Mpumalanga te skep.





