Brekende Nuus
Nuus

Mthatha-sakeman in hegtenis ná 140 vuurwapens gekonfiskeer is

Foto's: SAPD

OOS-KAAP. – ’n 60-jarige sakeman van Mthatha is in hegtenis geneem nadat daar op 140 vuurwapens tydens ’n nakomingsinspeksie by die hoofkantoor van sy vieligheidsmaatskappy beslag gelê is. Die sakeman staan tereg op ‘n aanklag van poging tot moord nadat ‘n polisiebeampte tydens ‘n tradisionele geleentheid ‘n skietwond in ‘n tent opgedoen het.

Lt.kol. Amanda van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die polisie het die inspeksie vroeër dié week as deel van Operasie Buyisa uitgevoer. Die sakeman is na bewering in besit van ’n maatskappy se vuurwapen gevind sonder die vereiste permit, wat ’n oortreding van artikel 3(1)(a) van die Wet op die Beheer van Vuurwapens, 60 van 2000, is. 

Beamptes het verder vasgestel dat vuurwapens wat in die naam van die veiligheidsmaatskappy geregistreer is, nie in die maatskappy se voorraadregister verantwoord is nie. Altesaam 140 vuurwapens is gekonfiskeer, terwyl ’n verdere 135 vuurwapens nie verklaar kon word nie. 

Die sakeman was reeds op borgtog in verband met ’n poging tot moord-saak waarin ’n polisiebeampte in Julie 2026 betrokke was. Daar word beweer dat hy tydens ’n tradisionele geleentheid ’n vuurwapen in ’n tent afgevuur het, waarna ’n polisiebeampte wat van diens was, ’n skietwond opgedoen het.

Die sakeman sal na verwagting op 29 September vir ’n formele borgtogaansoek ná vandeesweek se inspeksie in die Mthatha-landdroshof verskyn . Die gekonfiskeerde vuurwapens sal aan ballistiese toetse onderwerp word om vas te stel of enige daarvan moontlik in ander ernstige en geweldsmisdade gebruik is.