GAUTENG. – Specialised Security Services (SSS) bied ’n beloning van R500 000 aan vir inligting wat tot die inhegtenisneming, suksesvolle vervolging en vonnisoplegging van die oortreders lei nadat sowat 1 200 Hisense 75-duim-QLED-televisiestelle uit Nexus Fulfilment Logistics se pakhuis in Wadeville, Germiston, gesteel is. Die diefstal het volgens SSS tussen omstreeks 21:30 en 02:00 op 9 en 10 November plaasgevind.
Mike Bolhuis van SSS sê sowat 20 verdagtes het na bewering in agt voertuie by die perseel in Calciumweg aangekom. Hulle het ’n veiligheidswag oorrompel en vasgehou, toegang tot die pakhuis forseer en die televisies verwyder. Die polisie en SSS ondersoek die saak. Ondersoekers vra inligting oor die verdagtes, die voertuie en waar die televisies geberg of te koop aangebied word. SSS vra ondernemings om tersaaklike afleweringsrekords en kringtelevisiebeeldmateriaal te bewaar. Lede van die publiek word gevra om nie verdagtes self te nader nie.
Enigiemand met inligting kan Morney Vos by 066 212 5193 of Ray Koch by 082 255 1516 bel, of die inligting by die polisie aanmeld.
Druk hier om meer te lees.