“My boetie is ’n dwelmverslaafde” – Ellouise

Lees ook :

Vir jare moes Ellouise van Rensburg (33) en haar familie toekyk hoe hul geliefde broer en seun stadig maar seker alles verloor as gevolg van sy dwelmverslawing.

Iets wat begin het as onskuldige pret, het Juan van Rensburg (36), beter bekend as Dusty, se lewe heeltemal oorgeneem.

Dit was ‘n Sondag, 10 Februarie, toe Ellouise en Juan saam breekpunt bereik het. “Beide van ons het besef dat daar iets aan die situasie gedoen moet word voor dit te laat is. Juan was letterlik op die randjie tussen lewe en dood,” vertel Ellouise hartseer.

Sonder om te baklei of te smeek, het Juan dadelik ingestem om hulp te kry.

Teen dié tyd het Juan al alles verloor. Nadat sy pa oorlede is, het hy die besigheid by hom oorgevat, “maar dinge het drastiese begin afneem,” vertel sy. Wat beteken het dat Juan nie meer genoeg geld gehad het om die paaiement van sy bakkie te betaal nie.

Hy moes sy bakkie, jet ski en vierwielmotorfiets verkoop en in die proses het hy ook sy vrou verloor. Hulle is onlangs geskei.

Die besittings wat hy wel oorgehad het, het hy begin verkoop om sy volgende fix te kon koop.

“Net nou en dan”

Juan was maar 20 jaar oud toe hy die eerste keer met dwelms, onder andere,Coke en Ectasy, begin eksperimenteer het.

Nadat Juan nie meer gaan gym het nie, heeldag geslaap het, en homself onttrek het van sy familie en vriende, het Ellouise-hulle begin besef dat sy “sosiale plesier” sy lewe begin oorneem het.

“Hy het sy passie vir die lewe en die dinge wat hy geniet het om te doen, verloor. Hy was nie meer die Dusty wat ons geken het nie.”

Hoe hanteer ‘n sussie dit?

“Sjoe hoe hanteer mens werklik so iets?” sê-vra sy.

“Ek het elke dag gevat soos dit kom. Elke dag was ‘n nuwe uitdaging. Ek het nie geweet wat hy vandag gaan aanvang, of wat hy gaan verkoop vir dwelmgeld nie. “

Ellouise erken dat dit ‘n baie moeilike tydperk in almal se lewe was. “’n Mens dink sulke goed beur net in flieks, maar kom ek sê jou vandag – alles wat jy al gesien het van ‘n dwelmsverslaafde, gebeur. Dis ‘n realiteit. Vra my!”

Van alles was Juan se depressie, as gevolg van sy verslawing, vir haar die ergste. Ek het elke aand daai oproep gevrees dat hy dalk geoverdose het.”

Ellouise vertel Juan het baie seer in sy hart saam met hom gedra – en sy dink terug aan hul laaste gesprek waar die trane letterlik oor sy wange gespoel het.

“Weet jy hoe dit voel om ‘n boodskap van jou boetie te kry wat sê dat hy nie meer kan of wil nie? Dat hy nie meer kans sien vir die lewe nie. Dit was vir hom ‘n straf om elke dag wakker te word. Dink jouself in: ‘n 35-jarige man wat net die klere aan sy lyf oorhet.

Volgens Juan was dit te laat om sy lewe reg te kry en oor te begin. “Hy het nie meer vir God in sy hart gehad nie, en dit het my gebreek,” vertel sy.

Ellouise vertel dat niks jou so magteloos laat voel soos om iemand te sien agteruit gaan, maar na hoeveel trane, smeek, mooipraat, het dit vir die familie gevoel asof hulle net nooit tot hom kon deurdring nie.
“’n Mens kan net elke dag pleit vir God se genade.”

Gemengde gevoelens

Ellouise erken dat sy haar broer al wou afskryf. “Ja, ‘n mens raak kwaad vir hulle. Baie kwaad, maar aan die end van die dag is dit my plig as sy suster om hom te help. Jy sit jou gevoelens agter jou en ondersteun hom. Ek kon hom nie aan sy eie genade oorlaat nie.”

Maak nie saak hoe moeilik of hoe seer dit was nie, Ellouise het probeer om op elke manier moontlik vir Juan daar te wees.

“Ek het hom altyd probeer moed inpraat. Vir hom gesê daar is hulp en dat hy moet fokus op die positiewe goed in die lewe. Solank as wat mens asemhaal, is daar hoop!”

Hardkoppig

Voordat Juan ingestem het om hulp te kry, was hy baie hardkoppig. “Hy het nooit na ons geluister nie. ’n Verslaafde het ‘n wil van sy eie.”

Ellouise vertel dat Juan al meinge kere belowe het hy sal ophou. Skaars twee minute later sal hy sê hy het geld nodig vir lugtyd, maar dan was dit maar net om sy volgende fix te koop. “Ons kon dadelik uit sy gedrag sien dat hy weer dwelms gebruik het.”

Terugslag

Juan was al vantevore twee keer in ‘n rehabilitasiesentrum. “Hy het die eerste keer self besluit om te gaan, maar die tweede keer het die dokter hom laat opneem.”

Dit was egter net ‘n kwessie van tyd voor hy weer in sy ou roetine teruggeval het. Volgens Ellouise het Juan al menige kere gesê dat hy wil ophou, maar sodra die realitiet hom tref, gebruik hy net weer dwelms.

“Hy het altyd gesê dit vat die hartseer weg en ‘n mens vergeet van al die sleg in die lewe. Hy het alleen gevoel en die dwelms het op ‘n manier daai leemte gevul.”

Daar is hoop!

Juan is al vir die afgelope agt weke in die Noupoort-rehabilitasiesentrum. Hier moet hy vir nog 44 weke bly om deur die hele rehabilitasieprogram te gaan. Vir die eerste 28 dae mag Juan gee kontak met sy familie gehad het nie. Hoekom weet die familie nie, maar beaam dat hulle bly is dat die reëls daar baie streng is.

Ellouise en haar ma is in hierdie stadium die enigste twee mense wat met hom mag kontak hê.
“Ons mag hom twee keer ‘n week tussen 19:00 en 21:00 bel, maar slegs 10 minute met hom praat.”

Op die ouderdom van 71 is dit nie ‘n maklike ding vir Juan se ma om te verwerk nie en was sy al in die hospitaal as gevolg van al die spanning. “ Sy praat nie sommer oor haar gevoelens nie, maar al die trane wat loop, doen die praatwerk van haar hart.”

“Maar sy was nog altyd daar vir hom en sal altyd wees,” sê Ellouise.

Ellouise vertel dat sy haar af dae kry en die trane nie kan keer nie. “Ek mis hom baie, maar ek is baie trots op hom oor die stap wat hy geneem het. Dit vat baie guts! Hy is so braaf.”

Volg sy pad

You can’t keep a good man down,” is die woorde wat Juan elke dag laat opstaan en aanhou. “Dis my pa se woorde aan my wat ek nooit sal vergeet nie.”

Juan het ingestem om elke Donderdag vanaf volgende week sy pad na herstel met die lesers te deel.

“Ek hoop my storie kan weer iemand anders help wat in ‘n diep, donker gat soos ek was.”

“Glo en bid net elke dag, want om verslaaf te wees, is ‘n siekte, maar God is groter as enige siekte. Dit kan oorwin word,” sê Ellouise.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief