My eerste Comrades: Elkeen se “why” lyk anders

Lees ook :

My eerste Comrades: Elkeen se "why" lyk anders

Deur Le Roux Schoeman vir Kerkbode

Twaalf ton piesangs en meer as 2 miljoen watersakkies voer hulle glo vir die sowat 20 974 Comrades-deelnemers. “Hardlopers” sou ’n oordrywing wees oor die meeste van ons ook ruim stap wanneer naambordjies soos Cowies Hill, Fields Hill, Botha’s Hill, Inchanga, en Polly Shortts langs die roete opdoem.

Daar is wel dié onder ons wie se tempo bykans nooit verlangsaam nie – wie se wedloop nie vandag van sonop voor die stadsaal in Pietermaritzburg tot sterk skemer twaalf ure later by People’s Park in Durban sal duur nie. Dit is trouens nog helderdag wanneer Tete Dijana die wenstreep bereik met ’n tyd van 5:25:28. En dit is sekondes – nie ure nie – wat tel wanneer die Nederlandse atleet Piet Wiersma op Dijane se hakke is.

Die gemene deler – of jy nou net-net tweede kom en of jy soos Johannes Maros Mosehla in jou 83ste jaar die wedloop in 11:47:27 klaarmaak … Of jy as beginner met die “0 medaljes” teken op jou hardloopnommer deelneem en of jy Louis Massyn is wat vir die 50ste keer die wedloop voltooi. Of jy nou uitblink op die podium of in die stilligheid by Cato Ridge ’n kat skiet en nie weet of jy die laaste van 47 waterpunte lewend sal haal nie – die Comrades ultramaraton het ’n manier om die wildes onder ons mak te maak en die makkes onder ons wild te maak. Wild vir wat die liggaam als kan vermag. En mak vir wat die liggaam als kan oorkom.

Jy moet weet hoekom jy dit doen

’n Vriendin met Comrades-ervaring het jare gelede die dik leerplan van Comrades se voorbereidingswerk en wysheid vir my soos volg opgesom: Jy moet kan begin (nie siek of beseer wees nie), kan klaarmaak (fiks genoeg wees) en jy moet weet hoekom jy dit doen (die gevierde Why?). Soos Shosholoza opdreun in Pietermaritzburg se donker strate en die singende falanks fikses see toe mik – rigting Durban – evalueer ek vir die soveelste keer dié drietal. Ek is nie siek nie. Die intense maagkiem van 14 dae gelede het my eintlik half gereinig, soos ’n inisiaat by ’n Ayahuasca-retraite in die privaatheid van my eie dupleks-badkamer. En hoewel ek wel die laaste paar oefensessies op die amptelike Comrades-oefenprogram moes misloop, voel ek dalk so goed soos ’n mens kan verdien om te voel voor jy 89 km diep in jou 40s’ hardloop.

LEES OOK: Gerehabiliteerde verslaafde hardloop 1 603 km na Pietermaritzburg én toe Comrades

Ek hardloop met ’n Casio horlosie wat kom uit die dae toe sy werk was om die tyd te gee. Min wetend dat tye verander het, kan hy dus nie vir my afstande en al die data rondom die oppe en affe van die laaste paar maande gee nie. Maar ek voel fiks en onthou oggende se hardloop, middae se hardloop, naweke se hardloop, hardloop op vakansiedae, hardloop tussen werk-goed, hardloop ná hospitaalbesoeke en hardloop ná ’n begrafnisdiens, hardloop voor ’n besoek aan begrafnisondernemers (“Sal dit ’n verassinkie wees, meneer?” wou die Avbob-dame weet) en hardloop met dieselfde hol kol van twyfel op my maag wat nou weer aanmeld. Maar ek kan klaarmaak, glo ek.

Ek gee my alles en hoop op iets

“Remember your why, kraai die omroeper vir oulaas soos die laaste van twee wegspringblokke om die draai verdwyn. Julle lyk goed, soos “racing snakes”, voeg hy by. Elke racing snake se why lyk seker maar anders. Ek vermoed daar is basiese kategorieë, waaronder een wat sterk teenwoordig is, die viering is van iemand wat nie meer met ons is nie. Soms pryk ’n foto op ’n drawwer se hemp, of ’n naam figureer iewers … Opgedra aan X. Hierdie een is vir jou, Y. Dit is ’n soort simbiotiese oefening waar die opdra-party ’n ekstra oemf vra by die ontvang-party. Die ruilhandel van rou het sy eie logika (Ek gee my alles en hoop op iets). My pa was my eerste Durban. Dit was sy Umgeni-rivier. Sy piesangbome, sy Virginia-lugskou, sy mango-pitte op die sypaadjie, sy roes op alles, sy kakkerlakke, sy Maharani-hotel, sy rooi boeie met haainette agter die deinings. Nie oor dit syne was nie, maar oor dit nie myne was nie. Dit het behoort tot die domein van die Grootmens en ek het soos ’n kind geglo hy sal my oral saamvat. Die laaste Sondag wat ek en my pa saam gebraai het, was hy in die bed. Rook het oor hom gewaai. Ons het boerewors geëet en na Tom Jones geluister op my foon. Hy kon nie lekker praat nie en Durban was 1 600 km weg. Ons was in die Kaap waar hy al jare gelede kom woon het en aftrede tot diep in sy sewentigs uitgestel het. Ek was nie daar vir sy laaste woorde die Maandag nie. Hy is dood drie maande voor die Comrades.

LEES DIE VOLLE ARTIKEL OP KERKBODE HIER


Vrywaring: Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief