GAUTENG. – ‘n Gr. 11-leerling (19) van Hoërskool Lesedi is glo Dinsdag deur ‘n gr. 12 mede-leerling buite die skool doodgesteek. Die skool is in Lethabong, ‘n informele nedersetting in Donkerhoek in die ooste van Pretoria geleë.
Lt.kol. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, bevestig aan Nuusflits die polisie soek na die verdagte in die moordsaak. Die oorledene is in die bolyf gesteek, waarna hy met aankoms by ‘n mediese sentrum dood verklaar is.
Steve Mabona, provinsiale woordvoerder van onderwys, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits volgens voorlopige verslae was die gr. 12-leerling nie dié dag in die skool nie, maar het na afloop van die skooldag opgedaag toe leerders in hulle skoolvervoer klim. Hy het toe glo die gr. 11-leerling net buite die skoolterrein met ‘n skerp voorwerp gesteek. Die slagoffer is na die Lethabong-gesondheidskliniek gehaas, maar is daar dood verklaar. Owerhede is tans besig met ’n ondersoek na die volle omstandighede rondom die voorval.
Matome Chiloane, die LUR vir Gauteng-onderwys, het sy kommer oor die voorval uitgespreek: “Ons is gebroke oor hierdie sinnelose daad van geweld. Geen kind behoort ooit hul lewe te verloor terwyl hulle onderrig nastreef nie. Ons betuig ons innige meegevoel aan die familie en die skoolgemeenskap in hierdie uiters pynlike tyd. As die departement veroordeel ons alle vorme van geweld in en rondom skole, veral deur leerders. Skole moet ruimtes van leer, veiligheid en hoop bly, nie broeiplekke van wreedheid en geweld nie. Leerders moet verstaan dat geweld lewensveranderende gevolge het. Sulke optrede sal jou nie net uit die klaskamer verwyder nie, maar kan jou uiteindelik agter tralies laat beland.”
Die departement het intussen ’n span sielkundiges, sowel as die skoolveiligheidseenheid, na die skool gestuur om berading aan getraumatiseerde leerders en onderwysers te bied en veiligheidsmaatreëls by die skool te versterk.
Die oorledene is as Lethabo Mokonyane, wat pas voor sy afsterwe eksamen geskryf het, deur die Garankuwa Mail geïdentifiseer. Dit wil voorkom of die voorval moontlik boelieverwant kan wees.
Nuusflits het polisiekommentaar gevra.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





