Brekende Nuus
Afrikaans

Nadal in eerste rondte by Roland-Garros uitgeskakel

Nadal tydens eerste rondte by Roland-Garros uitgeskakel. Foto: FFT
Nadal tydens eerste rondte by Roland-Garros uitgeskakel. Foto: FFT

PARYS, FRANKRYK. – Rafael Nadal (37) is vir die eerste keer tydens die Franse Ope-tennistoernooi, ook bekend as die Roland-Garros, in die eerste rondte uitgeskakel. Hy het die toernooi al 14 keer gewen.

Hy het verloor teen die Duitser Alexander Zverev met ’n finale telling van 6 7 6 – 3 6 3. Zverev is tans die vierde gekeurde manstennisspeler in die wêreld.

Nadal het begin April uit die Monte-Carlo-meersterskampioenskap onttrek omdat hy geglo het hy nie voorbereid genoeg na sy heupbesering was nie.

Einde April is hy in die tweede rondte by die Barcelona Ope-tennistoernooi uitgeskakel toe hy teen die 11de gekeurde Alex de Minaur verloor het.

Nadal het 112 uit die 115 wedstryde gewen wat hy tydens die Franse Ope gespeel het.

Zverev het aan die einde van die wedstryd gesê dit was ’n groot voorreg om teen Nadal te speel en dat hy van kleintyd na hom opgekyk het.

Nadal het sedert die begin van die jaar geen geheim daarvan gemaak dat hy in 2024 wil uittree nie. Hy het egter nog nie duidelik gemaak presies wanneer nie.

Bronne: Roland-Garros, Lethbridge News, Business Standard