GAUTENG. – Die polisie het tydens klopjagte gedurende April 16 handelaars in hegtenis geneem wat glo nagemaakte goedere verkoop het en het op R17 miljoen se goedere beslag gelê.
Volgens nasionale polisiewoordvoerder, lt.kol. Amanda van Wyk, het spanne van nasionale en provinsiale eenhede vir nagemaakte- en onwettige goedere die afgelope maand 33 klopjagte in die Vrystaat, Gauteng, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en die Wes-Kaap uitgevoer. Tydens hierdie operasies is ‘n wye verskeidenheid nagemaakte produkte in beslag geneem, waaronder gemerkte klere, sportdrag, selfoonbykomstighede, speelgoed, medisyne, verbruikersgoedere en selfs nagemaakte drank en sigarette. Van die 16 mense wat in hegtenis geneem is, is nege aangehou omdat hulle glo die immigrasiewet oortree het, vyf is vas vir die beweerde oortredings van die wet op nagemaakte goedere en twee omdat hulle glo die drankwet oortree het.
Die polisie doen ‘n ernstige beroep op gemeenskappe om nie nagemaakte produkte te koop nie. Hierdie goedere word sonder enige kwaliteits- of veiligheidstandaarde vervaardig, dit benadeel wettige besighede, veroorsaak werksverlies en beroof handelsmerkeienaars van hul regte. Wanneer mense goedkoop nagemaakte produkte koop, dra hulle onbewustelik by tot misdaad en werksvernietiging in hul eie gemeenskappe.








